September 2022_Koue Bokkeveld Opleidingsentrum_Nuusbrief

*|MC:SUBJECT|*
KOUE BOKKEVELD OPLEIDINGSENTRUM
HALLO SEPTEMBER. GELUKKIGE LENTE! 
Dit is alweer die mooiste tyd van die jaar. Oral waar jy kyk is die prentjie van mooi blomme en die bloeisels in die boorde lyk soos 'n pragtige skildery. Die gevoel van nuwe lewe en hoop is ook weer daar. Almal maak reg vir 'n nuwe seisoen.
In September was dit die manne se beurt om Mannedag te vier en ons het net weer besef hoe belangrike rol hul in ons samelewing speel.
Daar was heelwat landbou opleiding op verskeie gebiede wat plaasgevind het sowel as nuwe verwikkelinge en vooruitsigte in ons landbou departement by die Opleidingsentrum.
Lees meer onder om op hoogte te bly van wat voorlê vir die volgende maand.
MANNEDAG 2022 - 'N DAG WAT DIE MANNE SE HARTSNARE AANGERAAK HET.
Op 24 September 2022, Erfenisdag, het ons Mannedag 'n magdom mans opgelewer. Die sprekers het so goed ingepas by ons tema: transformasie! Soos Johnny Davids gesê het: “Dit waarop jy fokus bepaal jou uitkoms”. Hemelbesem het die mans aangemoedig met die woorde: “Ek worry nie, ek wonder nie, ek weet ek kan”. ACVV het verduidelik dat die mans verantwoordelik is om die siklus van alkoholmisbruik te stop. Die Xhosa sprekers het baie gefokus op geslaggebasseerde geweld en vir die mans nuwe perspektief gegee oor hoe om op te tree teenoor vrouens. Die sprekers se lewensverhale en boodskappe is werklik ‘n inspirasie vir elke man en het hul aangemoedig om te streef na verandering. Terugvoering wat ons ontvang het was positief en goed. Een persoon het gesê: “Mannedag se sprekers het my kombuis [hart] diep geraak”.
AGRISETA BEFONDSING AANSOEKE
Die aansoeke vir befondsing by AgriSETA het gesluit op 15 September 2022. Baie dankie vir almal se samewerking vir die indiening van al die nodige dokumente. Aansoeke is ingedien vir die volgende programme: leerlingskappe, vaardigheidsprogramme (kort kursusse), internskappe, werkplekplasing, vakmanne, beurse,  AET, en jeug. Die verwagting is om teen vroeg volgende jaar te hoor of die aansoeke goedgekeur is. 
DEPARTEMENT VAN LANDBOU OPLEIDING
Ons het gedurende September weer die geleentheid gehad om opleiding aan te bied vir die Departement van Landbou: Wes-Kaap.
Daar was ‘n versoek gerig dat Koue Bokkeveld Opleidingsentrum hulle moet help in die Vredendal-area met die aanbieding van Groenteverbouingskursusse. Hierdie kursus was 4 dae lank en het verskeie fasette van groenteverbouing ingesluit; naamlik grondvoorbereiding, besproeiing, plant van gewasse en oes van gewasse. Altesaam het 18 leerders die kursus bygewoon en die kursus was by Vredendal Primêr aangebied. Die leerders het gekom uit verskeie gebiede o.a. Molsvlei, Rietpoort, Vredendal en Klawer. Dit was almal individue wat werksaam is in tuine by skole, gemeenskap- en huistuine.
Daar was ook Trekker Operateur opleiding aangebied.
Die trekker kursusse is op die departement se navorsingsplase in Lambertsbaai, Riviersonderend en Worcester aangebied. Alhoewel die groepies klein was, was die studente se terugvoering goed. Onder volg 'n paar foto’s van die studente tydens die trekker opleiding.
ONS GROET EN ONS VERWELKOM
Dit is met baie gemengde gevoelens oor die feit dat ons vir Ayanda Jack moet groet as werknemer by die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum. Ayanda se gesondheid het die laaste paar maande ongelukkig agteruitgegaan en is gevolglik vir ses maande met siekteverlof afgeboek. Hy het egter besluit om nie na sy siekverlof weer terug te keer werk toe nie en wil fokus op sy gesondheid en sy familie. Ayanda het vir 18 jaar by die sentrum gewerk as leerlingskap fasiliteerder en was ook nou betrokke by die gemeenskapsontwikkeling departement. Hy het ook `n groot rol gespeel in die organisering van die sokker liga in die Witzenberg wat tans `n groot leemte laat. Ons gaan vir Ayanda verseker baie mis as deel van die opleidingsentrum-familie en wens hom alle sterkte toe met sy gesondheid sowel as die pad vorentoe.

Ons wil dan graag met groot opgewondenheid vir Mvumelo Joseph Moqiti welkom heet, wat as leerlingskap fasiliteerder by ons personeel aangesluit het. Joseph gaan voortaan betrokke wees by die landbou departement en o.a. help met vertalings, fasilitering van klasse en tolk en aanbied van kort kursusse. Hy is van De Doorns en sal op 3 Oktober 2022 by ons span aansluit.
Mvumelo Joseph Moqiti
1, 2, 3 WERK
Hortgro het 'n artikel in hul nuusbrief oor die 1,2,3 Werk Landbou Jeugprogram. Lees meer hier deur te kliek op die link onder.
https://www.hortgro.co.za/news/learn-to-achieve-creating-opportunities-for-marginalised-youth-in-rural-south-africa/
SOKKER NUUS
Na aanleiding van die sokker vergadering wat gehou is met die sokker kapteine en bestuur asook die geskrewe terugvoering van plase, is dit duidelik dat almal ooreenstem dat die sokker by die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum moet bly. Die meerderheid van plase het aangedui dat die spanne wie se plaastoeskouers wangedrag openbaar, geskors sal word. Ons gaan ook die hoeveelheid geld wat verhandel word elimineer deur spanne nie meer te beboet nie, maar eerder teruggaan na spanne te skors wat nie voldoen aan die sokker reëls nie. 

Die eerste sokker vergadering het op Woensdag, 7 September 2022, plaasgevind. Die teenwoordigheid was baie goed. Die reëls is weer deurgegaan en almal het hulle verbind tot die reëls. Die belangrikheid van samewerking tussen SAPS, plase en "marshalls" is beklemtoon ten einde alkohol gebruik en smokkelary aan te spreek.

Sokker is vir ons ‘n baie belangrike Xhosa inset, aangesien daar reeds min produktiewe ontspanningsaktiwiteite is. Hierdie is ook deel van ons groter gemeenskapsdoelwitte, maar soos ons genoem het, indien dit nie ooreenstem met die doel van die sentrum nie sal ons weer oor ‘n jaar dit moet hersien. 

Baie dankie aan almal se insette, geduld en samewerking. Ons by die sentrum werk hard om sokker reëlings en gepaardgaande uitdagings effektief aan te spreek
LEERLINGSKAPPE
QCTO KWALIFIKASIE
Dit was ‘n bedrywige tydperk t.o.v. die QCTO kwalifikasie (Orchard and Vineyard Foreman NQF 4). Baie werk is gedoen om te verseker dat die program kan voortgaan soos beplan. Die eerste QCTO leerlingskap word aangebied in die Tulbagh-area met 9 studente wat afkomstig is van verskillende plase. ‘n Besoek is gebring aan die groep leerders tesame met sommige van hulle bestuurders om die finale voorbereidings te tref. Sommige leerders het reeds begin met die Produktiewe Spanne kursus wat aangebied was deur Archie van Biljon, terwyl ander leerders eers later daaraan sal deelneem. Hierdie studente se eerste amptelike klas het op 28 September 2022, begin.
HUIDIGE NQF 4 - KLAS
Die tweede groep leerders het begin met hulle opleiding by "Agricolleges International" (ACI). Hierdie groep het baie ywerig begin met hulle kursus voorbereiding, maar dit gaan nou al baie beter. Die leerders moes aanlyn werk en toegang hê tot internet wat die proses aanvanklik bietjie stadiger gemaak het. Vir die volgende 13 weke sal hulle slegs ‘n gedeelte van hulle NQF 4 - kwalifikasie aanlyn doen. Die terugvoering sover vanaf ACI is positief oor ons leerders. Die produsente is ook baie behulpsaam om hulle leerders te help waar nodig.

AFRIKAANS EN XHOSA NQF 1 - KLASSE
Hierdie klasse begin nou einde se kant toe beweeg en is amper voltooid.  Soos baie NQF 1 - groepe was hierdie groepe redelik stabiel en kon voortgaan soos beplan. Die beoogde voltooiingsdatum is aan die einde van Oktober 2022.
OPKOMENDE KURSUSSE - SKRYF BETYDS IN
Dit is binnekort weer ‘n besige tyd op die plase. Indien julle nog enige opleiding wil doen voor julle begin rondhardloop, kontak ons gerus! Hier is van ons kursusse om na uit te sien in Oktober:
  • Kettingsaag: 5 - 7 Oktober
  • Groente Monitors (Afrikaans): 7 Oktober
  • Nanny kursus: 22 Oktober
  • Groente Monitors (Xhosa): 14 Oktober
  • Opvolg van 2021 Toesighouers (Xhosa): 18 Oktober
  • Noodhulp Vlak 2 (Afrikaans): 24 - 26 Oktober
  • Basiese beginsels van toesighouding (Xhosa): 24 - 27 Oktober
  • Kettingsaag: 26 - 28 Oktober
  • Besproeiing: 25 Oktober
  • Besproeiing: 26 Oktober
  • Kettingsaag: 26 - 28 Oktober
  • Paklyn toesighouers: 2 - 4 November
  • Pere Velddag: 3 November
  • Excel advanced: 8 November
  • Gastehuis opleiding: 10 November
PERE VELDDAG
Christo Strydom bied weer ‘n Pere Velddag aan op Donderdag, 3 November. Die oplei van nie-draende bome sal in diepte bespreek word, asook hoe om vroeër produksies te kry met die gebruik van meer vrugbare onderstamme. Let asseblief op dat hierdie velddag fokus op toesighouers en junior bestuurders. Die dag sal afskop in die Warm Bokkeveld, en daarna sal die Wolseley area ook besoek word.

Skryf nou in op ons webstuiste by www.kbos.co.za of by Euria euria@kbos.co.za. Kostes beloop R520 p.p.
Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list.






This email was sent to *|EMAIL|*
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
*|LIST:ADDRESSLINE|*

*|REWARDS|*