2020 PROGRAM EN BEFONDSING
Ons is besig met befondsing aansoeke vir kort kursusse, ABET, en leerlingskappe, asook die optrek van ons opleidingsprogram. Waar die aansoeke gewoontlik Januarie oop maak, is hulle nou reeds oop tot 15 November - dus moet ons alle inligting vanaf die plase kry so gou as moontlik om die aansoek betyds in te dien. Ons besef dit is ook 'n moeilike tyd vir die plase, maar vra asseblief vir almal se samewerking met die nuwe befondsing stelsel - alle pogings is tot voordeel van ons studente.
Ons mik om teen die eerste week in Desember ons 2020 program op die webwerf te laai. Plase kan ook volgende jaar hulle eie datums kies vir plaasbesoeke - ons gaan vanaf Desember afsprake begin maak - Joy sien vanjaar Koue Bokkeveld plase, en Carmen besoek die Warm Bokkeveld, Swaarmoed, en Wolseley plase.
KURSUS KANSELLASIES
Die afgelope paar weke het ons heelwat kursus kansellasies gekry - ons wil graag vir almal herinner dat ons 'n 72-uur kansellasie beleid het. Indien enige kursusse nie binne drie werksdae voor die kursus gekanselleer word nie, sal die plaas ongelukkig steeds gefaktureer word. Daar is ook van die bestuurskursusse wat nie binne twee weke gekanselleer mag word nie - kyk asb. op die webwerf om enige onduidelikhede te voorkom.
SENIOR KAMP
58 leerders insluitend 4 Tienermentorleerders was vanjaar ingeskryf vir die Senior kamp vanaf 24-27 September 2019. Te danke aan al ons befondsing en donasies kon ons die prys afbring van R 1 000 per leerder na R 500. Die leerders skryf dat die kamp vir hulle die geleentheid bied om te verander en om vir jongmense met lewensvaardighede toe te rus sodat hulle ’n beter toekoms kan hê. Hulle skryf verder dat die kamp werklik die moeite werd is om te befonds en dit plaas minder finansiële druk op plase en die leerders se ouers wat dit nie kan bekostig nie.
Wat was vir jou die mees leersaamste van die kamp?
Waarom moet buite instansies aanhou om die kamp te befonds?
LEIERSKAP ONTWIKKELINGSENTRUM
 Koue Bokkeveld Opleidingsentrum het in September, in samewerking met Hortgro en Mazars, ons eerste Ontwikkelingsentrum vir Produksiebestuurders aangebied, by Saronsberg in Tulbagh. Dit was baie goed ontvang en 100% van die deelnemers het gesê dat hulle die sentrum vir mede produksiebestuurders sal aanbeveel.
Die doel van die ontwikkelingsentrum was om aan produksiebestuurders, op ‘n praktiese manier en in ‘n veilige en vertroulike omgewing, terugvoer te gee oor die effektiwiteit van hulle bestuursgedrag. ‘n Bestuurder se belangrikste taak is om werk deur mense gedoen te kry en resultate saam met ander te bereik. Die belangrikste “gereedskap” tot hulle beskikking om dit te doen, is hulle leierskapsgedrag (hoe hulle dinge doen). As hulle leierskapsgedrag effektief is, behoort hulle spanne baie goed te presteer; as dit minder effektief is, sal hulle spanne minder goed presteer. Ons volgende sentrum is geskeduleer vir 12 en 13 November 2019.
DIE SENTRUM SE NUWE FOON STELSEL
Met ons nuwe kantore, het die sentrum ook 'n nuwe foon stelsel gekry. Dit beteken ongelukkig dat ons uitbreidings verander het - luister asb. na die nuwe boodskap om almal se uitbreidings te leer ken. Dankie aan almal vir hulle geduld tydens die bouery en veranderinge.
SOKKER
Die 2019 Aartappel SA finaal vind Saterdag 9 November plaas te Kromfontein, vanaf 08:30. Almal is welkom om die spanne te kom ondersteun teen R5 per persoon. Die spanne wat in die finaal gaan speel is Vastrap, Ouplaas, Die Eike 2, en Donkerbos.
Ons is nog aan die gang met reëlings vir die 'marshal' opleiding, en het n tentatiewe datum vasgestel vir 16 Desember. Ons sal vir almal laat weet sodra ons meer inligting het.
MANNEDAG
 Ons is baie tevrede met die Mannedag wat 5 Oktober plaasgevind het. Die sprekers het mekaar goed aangevul en almal het dieselfde boodskap vanuit verskeie perspektiewe oorgedra.
Dit was ’n groot sukses om vir Xhosa sprekendes hulle eie sprekers te reël, en almal het saam gebraai na die tyd.
GOEIE NUUS
 Matjiesrivier se vrouekoor het 2019 se koor kompetisie gewen. Die plaas is baie trots op hulle koor, en verduidelik dat die koor voorsien self hulle klere, en help en ondersteun mekaar finansieël. "Dit is vir ons merkwaardig hoe hul onder mekaar help." Wat is hulle resep vir suksus? In die koor se eie woorde, "Dit was met harde werk en motivering onder mekaar dat ons van krag tot krag kon groei. Ons het mekaar se hande gevat, om tye van teleurstelling en lae moed mekaar te ondersteun.”
|
|
|
Vir R1000 kan u of u besigheid 'n groot verskil maak in 'n kind se lewe - deur die kamp word plaaslike kinders bekend gestel aan spanwerk, die invloed van goeie keuses, raad oor hul loopbane en vakkeuse, sowel as praatjies deur Boland Kollege, Toevlug, die polisie, en maatskaplike werkers.
Saam kan ons 'n verskil maak!
Om 'n leerder te borg, of vir meer inligting hieroor, kontak asseblief vir Samantha. Nader gerus ook u veskaffers om 'n kind te borg.
|
|
|
|
|