MEI 2021_Koue Bokkeveld Opleidingsentrum_Nuusbrief

*|MC:SUBJECT|*
KOUE BOKKEVELD OPLEIDINGSENTRUM

'N VERDIENDE RUSKANS

Met ons Herfssnoei en jongboom manipulasie-dag het die mis vroegoggend om die bome gehang. Dit is 'n teken dat die koue al hoe nader kruip om uiteindelik ook die bome in die boorde 'n ruskans te gee.

Koue Bokkeveld Opleidingsentrum gaan volstoom voort met al die kursusse en opleidingsgeleenthede wat geskeduleer is. Hieronder deel ons van die terugvoer oor die afgelope maand se sessies en ons lig opkomende geleenthede uit.

Ons wens alle produsente en agri-werkers sterkte toe vir die laaste take om die oes af te handel en dan, waar moontlik, 'n kort ruskans te geniet.

LEERLINGSKAPPE KRY AGRISETA GOEDKEURING EN BORGSKAP

Die “Rolls Royce” program van die sentrum kry ‘n hupstoot!

Met groot dankbaarheid het verskeie van ons ledeplase AgriSETA goedkeuring/borgskap ontvang vir NQF 4- en NQF 1-landbouleerlingskappe. Dit is ‘n groot verligting ná die afgelope twee jaar waar ons geen befondsing vanaf AgriSeta ontvang het nie.

Indien plase goedkeuring gekry het, moet hulle asb. so gou as moontlik vir ons die nodige dokumentasie, soos aangevra, aanstuur.  Die landboudepartement sal elke plaas individueel kontak en die uitrol van die leerlingskappe verduidelik. Hou asb die kommunikasie vanaf die sentrum dop.

Die huidige NQF 4-landbouleerlingskappe gaan aan soos beplan terwyl die ZZ2 NQF 1-groep se landbouleerlingskappe reeds op 7 Mei 2021 afgeskop het.

Enige navrae oor die landbouleerlingskappe kan gestuur word na Jacob by jacob@kbos.co.za.

Ander geborgde kursusse

Slegs die modulêre kursus het borgskap ontvang van al die kort kursusse waarvoor daar aansoek gedoen is.  Die plase wat hiervoor aansoek gedoen het, is reeds gekontak oor die papierwerk.  Ons sal eersdaags meer duidelikheid kan gee oor die uitrol van hierdie kursus.  
 

BESTUURSDAG, 20 MEI, KALEO

Die koue weer en swaar reën het ons nie gekeer om 'n suksesvolle Bestuursdag te hou met “warm” onderwerpe en warm koffie nie. Die sprekers was almal puik en het, sonder twyfel, almal huis toe gestuur met iets om oor te gaan dink of met iets wat hul geleer het.
Soos Dr. Braam Hanekom gestaaf het: “Is diversiteit 'n probleem om te bestuur of 'n geleentheid om te gebruik?
Die kos was ook heerlik en ons wil graag almal bedank wat die dag bygewoon het. Ons sien al klaar uit om te begin beplan aan Bestuursdag 2022.

Bestuursdag het ’n evalueringspersentasie van 92% behaal by ons bestuurders wat dit bygewoon het. Dit is duidelik dat dit ’n groot sukses was.

Hieronder deel ons van die terugvoer en foto's.

“Meer gesprekke soos Stefaans, het dit nodig!”

“Julle het ’n wenresep, hou so aan!”

“Goed beplan. Goeie sprekers. Groepbesprekings werk vir my. Een van die bestes.”

“Dit was sekerlik een van die beste Bestuursdae wat ek nog bygewoon het.”

Hier is die terugvoerpersentasies van ons Bestuursdag.

JONGBOER VAN DIE JAAR

Koue Bokkeveld Opleidingsentrum wil graag vir Alexander Gibson baie geluk sê vir die groot prestasie om as Agri-Wes-Kaap en Santam Landbou se Jongboer van die jaar aangewys te word.

Gibson (32) het ‘n BAgric-graad behaal aan die Universiteit van Stellenbosch en boer al vir die afgelope 11 jaar op Doornkraal Agri met 300ha appels en 110ha pere.

AFRIKAANSE LEIERSDAG - 9 JUNIE

Dr. Ruben Richards, internasionale leierskapskenner, skrywer en nou ‘n plaaseienaar, kom bied ‘n interaktiewe werkswinkel aan vir Leiersdag. Hy was baie gewild by 2020 se Bestuursdag en ons sien uit om hom hierdie jaar deel te hê van ons Afrikaanse Leiersdag.

Dit word aangebied by die NG Kerksaal Op-die-Berg. Die tema vir hierdie jaar is Diversiteitsbestuur. Die dag is gemik op die Toesighouers wat elke dag al hoe meer met diverse werkerspanne en spanleiers werk. Die fokus sal wees op die uitdagings daarvan om met die diverse spanne te werk sowel as mens se eie persepsies van, en houding oor, diversiteit. Verdere aandag sal gegee word aan die spesifieke fokus op die hantering van die span wat aan jou rapporteer (ondertoe) asook die span waaraan jy rapporteer (boontoe - met die bestuur / bestuurders).

VAKANSIEPROGRAM EN JEUGDAG

Op 26, 27 en 29 April het ons die lekker Vakansieprogram aangebied. Die leerders van die Besige Bytjies program was omtrent kreatief met hulle rommel. Hul het die oulikste en mooiste goed gemaak, van brille tot pennehouertjies tot mannetjies. Daar was ook lekker gedans en sakresies gehou by die Voete Jik program. Tydens die werkswinkel is daar geleer van Kwaito, Breakdance en Hip Hop. ‘n Totaal van 198 leerders het deelgeneem aan die Besige Bytjies en Voete Jik program.

Ons het ook weer ons Pace Program gehad waar 10 leerders, ouderdomme van Graad 9 en 10, ingeskryf was om met vak- en loopbaankeuses gehelp te word.

Nog ‘n lekker en suksesvolle dag was ons Jeugdag wat op die 30ste April plaasgevind het.

Dit was aangebied in samewerking met FARR en daar was altesaam 121 leerders. Daar was weer bewusmaking oor fetale alkoholsindroom. Die leerders het ook lekker gelag en was gemotiveer om op hul voete te dink deur in groepe tydens sekere aktiwiteite op te tree.

BROKKIES

  • GROEPGROOTTES OP PLASE: Ons het ‘n paar navrae gekry oor die grootte van groepkursusse op plase. Ons wil dit net duidelik maak dat ons 'n maksimum van 30 studente in `n groep kan akkommodeer.
  • ENGELSE KURSUSSE: Kyk bietjie uit vir die datums van die kursusse wat nou ook in Engels aangebied word, bv.  
    • Noodhulp Vlak 1 op 14 en 15 Junie.
    • Noodhulp Vlak 1 – vermengde leer op 30 Junie en 11 Augustus (prakties) en 1 September en 4 Oktober (prakties).
    • Trekkeroperateur op 22 tot 24 Junie.
    • Veilige hantering van gifstowwe – e-leer (30 dae aanlyn) op 4 Mei, 4 Junie, 4 Augustus, 3 September en 4 Oktober.
    • Veilige hantering van gifstowwe – beginners op 2 September.
    • Veilige hantering van gifstowwe – heropleiding op 4 Oktober.
    • Hantering van 'n Spuitpomp op 25 Junie.
    • Kontak Euria by euria@kbos.co.za indien daar enige verskuiwings van studente moet plaasvind. 
  • KANSELLASIE-BELEID: Ons wil hiermee ook weer ons kansellasie-beleid onder julle aandag bring.  Individuele inskrywings moet asb. drie werksdae (72 uur) voor die tyd gekanselleer word, behalwe vir die bestuurskursusse wat twee weke voor die tyd gekanselleer moet word.  Vir groepe en meer as vyf inskrywings per kursus, is die kansellasietyd vyf dae voor die kursus.
  • NOG LANDBOUNUUS: Alle vrugtepluk-assesserings is afgehandel soos beplan.
  • BRIGHT STAR CORE EN BRIGHT STAR CLASSIC: Ons kry gereeld navrae oor wat die verskil is tussen Bright Star Core en Classic. Hiermee ‘n beter idee wat elke kursus behels:
    • Bright Star Lifestyle fokus op ‘n betekenisvolle lewe, deurdat mense begelei word om goeie keuses te maak en verantwoordelikheid te neem vir ‘n beter lewe. Die krag van die program berus daarin dat mense begelei word om SELF keuses te maak. 
      • CLASSIC is ‘n 3-dag kursus en bestaan uit 3 modules wat fokus op jouself, verhoudings en leierskap. Daar is 'n fokus op invloed en is vir mense in leiersposisies. 
      • CORE is ‘n 2-dag kursus en is eenvoudiger. Dit bied die grondslag om jouself beter te leer ken en te verstaan en rus jou toe om uitdagings beter te hanteer.
         

BESOEK EN BESPREEK

Wil jy meer leer en saam kom gesels oor tonne vs. kwaliteit, hoe om kwaliteit te verbeter en oor boorde 10-15 jaar in die toekoms? Willie Kotze, Tegniese Adviseur van die DuToit Groep, bied hierdie sessie op die 15de Junie 2021 aan. Die sessie sal begin by die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum waarvandaan hul boorde gaan besoek op Nooitgedacht plaas. Sien gerus die program van die sessie onder.

Program:
  1. Drywers vir winsgewendheid uit Frudata vir kernvrugte.
  2. Inkomste-verskille by verskillende appelvariëteite. Vruggrootte vs. kleur vs. tonne.
  3. Drywers wat klas 1 aan boomtonne kan verbeter.
  4. Hantering van vrugte.
  5. Plaasbesoek op Nooitgedacht. Kyk na stappe wat gedoen word om boorde meer winsgewend te maak.

Besprekings kan op ons webwerf gedoen word of skakel vir Euria by euria@kbos.co.za 

SALARIS- EN LOONOPNAME

Daar was die afgelope paar maande verskeie navrae gewees oor hoe om inligting te bekom rakende lone en salarisse, juis omdat daar so baie gebeur het sedert die vorige opname. Daarom loods die KAW met behulp van Andries Laker weer die salaris- en loonopname vir die primêre landbousektor.

Soos deurgegee deur die KAW: “Hierdie opname help produsente om hulle inligting te vergelyk met die mark en die verskillende poste asook om billikheid te bepaal in die werksplek. Die sektorale vasstelling asook arbeidswetgewing vereis van werkgewers om hulle vergoedingsbeleide te hersien en vereis dat gelyke betaling vir werk van gelyke waarde moet geskied. Die minimum loonverhoging het ook die gevolg gehad dat ander poste beinvloed is”.

Die KAW se versoek is dat plase deelneem aan hierdie opname aangesien die betroubaarheid van die opname afhanklik is van die aantal deelnemers.

Baie belangrik!! Die opname sal vanjaar elektronies geskied. Hier volg die link: https://www.caeo.co.za/salary-and-wage-survey-salaris-en-loonopname-2021/

Deelnemersfooi – R 2 500.00     
Sluitingsdatum vir inskrywings: 11 Junie 2021

OPKOMENDE KURSUSSE

  • Ons het ‘n nuwe BRANDBESTRYDING 1-DAG "REFRESHER"  kursus bygevoeg op ons kalender.
    • Vereistes: Moet al ‘n volledige 2-dag Brandbestryding kursus bygewoon het.
    • Datums: 17 Junie in Ceres, 18 Junie by KBOS.
    • Prys: R1070 lede prys, R1280 Nie-lede prys.
  • Daar is ook nog plekke beskikbaar in ons Onkruidbestuur kursus (Groente en Vrugte) op die 28ste Junie en in ons Toesighouer Kwaliteit (AFR) kursus op 24 en 25 Junie.

Skakel gerus vir Euria by euria@kbos.co.za of boek op ons webwerf by www.kbos.co.za.

Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list.






This email was sent to *|EMAIL|*
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
*|LIST:ADDRESSLINE|*

*|REWARDS|*