JUNIE 2021_Koue Bokkeveld Opleidingsentrum_Nuusbrief

*|MC:SUBJECT|*
KOUE BOKKEVELD OPLEIDINGSENTRUM

JUNIE - MAAND VAN JEUGDAG EN 'N VERDIENDE RUSKANS

In 'n maand waar ons Jeugdag kon vier wil ons by Koue Bokkeveld Opleidingsentrum ons wens en hoop uitspreek dat ons almal sal doen wat ons kan om ons mense en kinders veilig te hou, soos die nuwe variant nou ook sy pad tot hier gevind het.

Hierdie afgelope Sondag het die president die land weer toegespreek om almal se samewerking te vra sodat ons die derde vlaag van COVID-19 in Suid-Afrika die hoof kan bied. Dit is meer as 'n jaar gelede wat ons vir die eerste keer geleer het wat die woord grendeltyd beteken en hier is ons weer op 'n punt wat daar verskerpte inperkings ingestel moet word.

Die lang verdiende ruskans is hier en ons wens vir almal ‘n lekker, geseënde vakansie toe en mag almal veilig, uitgerus en gesond terugkom.

LEIERSDAG - 9 JUNIE 2021

Op 9 Junie 2021 was daar ‘n groot opgewondenheid Op-die-Berg, toe Dr. Ruben Richards ons mense in leiersposisies kom toespreek het oor diversiteit en inklusiwiteit.

Onderwerpe wat uitgestaan het was:
  • Diversiteit = Verskille en Insluiting = Behoort.
  • Fokus op wat ons verskillend maak, maar ook wat ons met mekaar verbind.
Alhoewel die tema nie ‘n maklike onderwerp was om oor te gesels nie, is daar baie geleer en gelag.

Dr. Ruben se aanslag was beskryf as uitstekend en hieronder is van die opmerkings wat deur die deelnemers gemaak is op die dag. 

Kyk gerus uit vir wanneer ons weer begin beplan aan 2022 se Leiersdag.

"Dit was 'n 'mindset shift' gewees."
 

“Meer geleer oor die identiteit van ons kultuur”.

“Ons moet dit nou aan ons kinders ook gaan oordra."
 
"Diversiteit was ’n bewusmaking van wat is die “label” wat jy jouself gee en dat ons verskil van mekaar. Ontdekking van wie jy is en wie ons is. Geskiedenis hoogtepunt."

WIE IS JOU ROLMODEL EN HOEKOM?

Hierdie was die tema van ons Jeugdag op 16 Junie 2021.

Altesaam 99 Jeugdiges het die dag by die Welsynsentrum in Ceres bygewoon. Heinrich Moses, Mnr. Suid Afrika finalis en onderwyser by Ceres Sekondêr; Zean Slinger, konstabel by Ceres SAPS; en Richard Faroa, onderwyser by Ceres Sekondêr was onder andere van die sprekers op die dag.

Ons het ook groepbesprekings gehou en meeste van die leerders het genoem dat hulle na hul ma, pa en onderwysers opkyk en hul as hul rolmodelle beskou. Dit is die mense wat vir hulle liefde gee en by wie hulle leer hoe om respek vir ander mense te hê.

Die eienskappe wat ‘n rolmodel bepaal is ook bespreek en wat ‘n mens kan doen om self een te wees. Die leerders het die dag baie leersaam gevind en ook baie geniet. Die terugvoering van die leerders was baie positief.

Loxtonia se gospel -en kwaito-dansgroepies het die kinders kom vermaak met hul oulike danspassies.

Definitief, 'n dag om te onthou!

LANDBOULEERLINGSKAPPE

AgriSETA het toekennings gemaak vir die volgende landbouleerlingskappe in die area naamlik: 34 x NQF 1 en 13 x NQF 4. Die NQF 4 groep sal in Afrikaans aangebied word, terwyl die die NQF 1 groepe in Afrikaans en Xhosa sal wees.
 
Dit sal nog bevestig word waar die twee NQF 1 groepe aangebied sal word. Een NQF 1 groep sal in die Koue Bokkeveld aangebied word en een groep in Ceres/Hamlet area.

Baie veranderinge is aangebring deur AgriSETA t.o.v. die aanbieding van landbouleerlingskappe. Alle papierwerk en die oplaai van inligting van die studente op die Seta se webwerf moet afgehandel word deur Koue Bokkeveld Opleidingsentrum en AgriSETA sal besluit wanneer die nuwe landbouleerlingskappe moet begin. Die beplanning is wel dat dit na die Julie vakansie sal begin.

Die huidige landbouleerlingskappe groepe gaan voort na die vakansie soos beplan.

WERKSWINKEL: VEILIGHEID EN NOODHULP VIR KINDEROPPASSERS

Hierdie is ‘n uitstekende geleentheid vir ‘n huishulp of “nanny” om meer te leer oor basiese noodhulp en kinderoppasserverantwoordelikhede en om ‘n gelukkige en veilige huis te verseker. Die werkswinkel sal o.a. die volgende inhoud bevat:
  • Veiligheid vir kinders in en om die huis.
  • Wat is die risiko's en hoe om ongelukke te verhoed.
  • Basiese noodhulp vir kinders en baba's, wat K. P. R sal insluit.
  • Koors hantering, verstikking en watter tekens en simptome kan dui op siekte by 'n kind.
Koste beloop R730 per persoon. Daar sal toebroodjies en koffie/tee beskibaar wees. Inskrywings kan gedoen word by euria@kbos.co.za.

 

DIE ONTWIKKELING VAN MENSE DEUR MIDDEL VAN EFFEKTIEWE KURSUS-OPVOLGAKSIES  

Lees meer hieroor in die artikel, geskryf deur Pieter Swanepoel, fasiliteerder vir Hopkins Coetzee en ook fasiliteerder vir Koue Bokkeveld Opleidingsentrum se Toesighouer Kwaliteit kursus.
LEES MEER

POPIA - WET OP BESKERMING VAN PERSOONLIKE INLIGTING

Vanaf 1 Julie 2021 gaan die Inligtingsreguleerder kragtens die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Wet 4 van 2013) (POPIA) teen oortreders kan begin optree. Koue Bokkeveld Opleidingsentrum is tans besig met die proses om te registreer en is ook besig met al die papierwerk en beplanning wat daarmee saamgaan.

In kort, wil POPIA die beskerming van persoonlike inligting bevorder en 'n balans tussen die reg tot privaatheid en ander regte, soos die reg tot toegang tot inligting, handhaaf. Dit is vir die sentrum 'n groot prioriteit om ons lede se persoonlike inligting te beskerm en om vol te hou as betroubare diensverskaffer. Ons gaan binnekort vir elke plaas 'n brief stuur om te laat teken en ons gaan ook ons registers van kursusse verander sodat studente self kan teken vir bv. die gebruik van hul foto’s in nuusbriewe.

Vir meer inligting hieroor kan jul vir Carmen kontak by carmen@kbos.co.za.

MODULÊRE KURSUS

Wil jy graag jou kennis opskerp/verbreed en leer by van die “bestes” in die Landboubedryf?

Ons is gereed om weer te begin met ons modulêre kursus oor vrugte.

Hierdie kursus bied aan produksie- en afdelingsbestuurders die geleentheid om hulle graad- of diplomakursus af te “stof”, deur blootstelling te kry aan top bedryfsleiers en konsultante. Die kursus vind by Koue Bokkeveld Opleidingsentrum plaas en kostes beloop R8 165 per persoon.
Hier is die program, datums en inhoud wat behandel sal word asook die betrokke fasiliteerders.
  1. Module 1. Groei-siklus van die vrugte boom. 12 Augustus. Prof. K. Theron.
  2. Module 2. Besproeiing en versorging. 17 Augustus. Mico Stander.
  3. Module 3. Oes en Plantbeskerming. 24 Augustus. Gideon van Zyl.
  4. Module 4. Grond en Plantvoeding. 31 Augustus. Louis Reynolds.
  5. Module 5. Ekonomie van vrugte-verbouing. 7 September. Piet van der Merwe.
  6. Module 6. Groei-reguleerders/buig/ringelering. 7 September. Schalk Reynolds/Piet Nieuwoudt.
  7. Module 7. Appel en Peer Onderstamme. 7 September. Prof. W. Steyn.
  8. Module 8. Velddag. 18 November. Piet Nieuwoudt.
Skryf nou in. Hierdie geleentheid wil jy nie misloop nie. Inskrywings kan gestuur word na euria@kbos.co.za.

BESOEK EN BESPREEK

Willie Kotze, Tegniese Adviseur van die DuToit Groep, het op die 15de Junie die Besoek en Bespreek-geleentheid gelei.
Op 24 Junie was dit Gideon van Zyl se beurt en hy het oor spuittegnologie gesels.

NOODHULP VLAK 2 EN 3

Alle plase moet net ASB weer kennis neem van die skrywe wat uitgestuur is oor die Noodhulp Vlak 2 en 3 wat nie hierdie jaar aangebied gaan word deur ons huidige noodhulp-opleiding organisasie nie,  weens Departement van Arbeid se nuwe wetgewing dat noodhulp-opleiding organisasies aan die vereistes moet voldoen om by 'n SETA/QCTO geakkrediteer te wees. Ons ondersoek wel die moontlikheid vir die aanbied van Noodhulp Vlak 2 en 3 deur ander geakkrediteerde diensverskaffers. Ons sal die plase kontak wat gekies het om voort te gaan en ons sal almal op hoogte hou van die verwikkelinge.

Noodhulp Vlak 1 kan soos normaal voortgaan en hou asb ons webwerf en jaarprogram dop vir die ekstra en nuwe geskeduleerde datums. Daar sal dus genoeg Noodhulp Vlak 1-kursusse geskeduleer wees sodat almal noodhulp opleiding kan doen vir oudit doeleindes. Indien daar enige onsekerhede/onduidelikhede is, kan jul vir Euria kontak by euria@kbos.co.za.

KURSUSSE: KLIPPIES IN DIE SKOEN

  • Ons wil die plase aanmoedig om vroegtydig met die studente te reël indien hul ingeskryf is vir 'n kursus. Daar was gevalle wat studente verleë was omdat hul laat opgedaag het by kursusse omdat daar eers die oggend van die kursus vir hul gesê was om dit te gaan bywoon. Dit krap ook mense se dae om as hul nie beplan het om opleiding te gaan bywoon nie. Ons glo baie aan die voorbereiding en opvolggesprekke met die studente vir die opleiding en wil almal aanraai om daarvan gebruik te maak. Die geel en groen kaartjies is tydens die bemarkingsbesoeke uitgedeel.
  • Ons het ook 'n vriendelike versoek dat plase seker maak dat hul studente inskryf vir die regte kursusse. Dit is nie net ongemaklik vir die aanbieder om die student te probeer help nie, maar dit sit ook die studente in die verleentheid, veral as die student huis toe gestuur moet word. Ons wil graag elke student akkommodeer en dit is juis waarom ons Afrikaanse, Engelse en Xhosa kursusse aanbied. Indien die student nie kan lees of skryf nie moet daar ook asb. vooraf gereël word en mooi besin word of die student die kursus moet bywoon en voldoen aan die vereistes. Ons sal dit ook van ons kant af duidelik maak wat elke kursus se vereistes is.

BROKKIES

  • VAKANSIEREËLINGS: Koue Bokkeveld Opleidingsentrum gaan oopbly gedurende hierdie tyd, maar neem asb. kennis dat die personeel op roterende basis op verlof gaan wees. Daar sal wel altyd iemand beskikbaar wees by die sentrum vir enige navrae en indien enige hulp verleen moet word. Carmen Roberts is beskikbaar vir enige noodgevalle by 082 765 8872.
  • NUWE SELFOONNOMMER: Neem asb. kennis van ons nood selfoonnommer 079 181 4302. Hierdie nommer kan gebruik word tydens kragonderbrekings. Ons huidige selfoonnommer, 0832683203, is nogsteeds in werking, maar die netwerk/lyn op hierdie nommer is ook af gedurende kragonderbrekings.

OPLEIDING IN AANGEPASTE VLAK 4

Opleiding in hierdie week sal nog plaasvind. Sien gerus meer inligting daaroor in die e-pos uitgestuur in die week.
 
Daar sal wel vanaf 5 Julie tot 23 Julie geen opleiding plaasvind nie, behalwe kursusse waar net een plaas se studente betrokke is. Ons sal op 12 Julie `n kennisgewing uitstuur indien daar verdere verskuiwings van kursusse moet plaasvind.
Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list.






This email was sent to *|EMAIL|*
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
*|LIST:ADDRESSLINE|*

*|REWARDS|*