|
Opleiding vir komitees op ons lede-plase kom al lank aan. Voorheen was dit oor twee opeenvolgende dae aangebied met 'n moontlike opvolg ná die tyd. Studente se reaksie was positief, maar in baie gevalle was die insette nie genoeg om blywende verandering te verseker nie.
By 'n Advieskomitee-vergadering van die Sentrum het daar ook 'n versoek gekom vir addisionele opleiding vir komitees oor finansies. Die plase wat dit wou hê, wil hul komitees meer inspraak gee in die toekenning van verdienstelike versoeke uit die gemeenskap vir fondse.
Covid-19-aanpassings
Met die beperkinge weens die Covid-19 pandemie moes aanpassings met kursusse gemaak word. Groepe word beperk tot 10, die span word vol gemaak deur die plaas of onderneming. 'n Ander aanpassing is om direkte kontaktyd sover moontlik te beperk deur vermengde leer te gebruik.
Kalos opleiding
Kalos het eerste by díe aangepaste model ingeskakel en het vir beide die standaard Komitee Opleiding- en Finansies vir Kassiere-kursusse ingeskryf.
Komitee-kursus
Die sukses van enige komitee begin by die manier hoe die komitees oor hulself en hul take dink. As hulle vasgevang is in die hopeloosheid van “poverty mindsets”, gaan hulle heeltyd sukkel met die groot sondebok: “samewerking”. Denkskuiwe is nodig om elkeen te help om leierskapsdenke te ontwikkel sodat die verantwoordelikheid van leierskap vir hulle 'n realiteit word.
Studente kry ook kans om insig te ontwikkel in die huidige vlak van die komitee se funksionering, om doelwitte en aksieplanne te skep ter verbetering. Om die beginsel van proaktiwiteit te verstaan en toe te pas, veral op die vlak van projek- en -jaarbeplanning. Om 'n beter begrip te ontwikkel van die basiese aspekte van vergaderingsprosedures en die rolle en verantwoordelikhede van die ampte binne die vergadering toe te pas.
Finansies vir Kassiere
Hierdie naam kan misleidend wees. Alhoewel syfers, somme en die nodigste finansiële terme verduidelik word, gaan dit eerder oor 'n houding oor geld. Om weerstand af te breek en in terme van syfers te kan dink en berekeninge deel te maak vir projekte. Om spesifiek te wees met getalle, basiese berekenings te kan maak, deursigtig te wees sodat almal weet hoe die “boeke” lyk en veral om versoekings (met ander mense se geld) te kan weerstaan.
Opvolg
Aan die einde van die reeks identifiseer die groep take wat hulle oor die volgende ses maande op eie stoom wil doen. In Desember kan hulle vordering dan weer gemeet word. Hiermee is daar geen onduidelikheid oor die toepassing van die opleiding nie. Eienaarskap hiervoor lê by die plaas, maar tog baat hulle by die voordeel van 'n eksterne bron vir motivering.
Die groep kan vorentoe hierdie patroon na die eerste opvolg herhaal. Sodoende word die momentum wat deur die opleiding opgebou is, ook op langtermyn verseker. Intensiewe opleiding hoef nie jaarliks herhaal te word nie, maar die proses kan wel lewendig gehou word deur elke keer meer gevorderde doelwitte te identifiseer en periodiek opgevolg word.
Leerlingskap
Hierdie was die eerste keer wat komitee-opleiding op 'n leerlingskapformaat, in stede van net 'n kortkursus-formaat, aangebied is. Verskeie van die leerlingskappe se beste praktyke is ook hier toegepas. Dit sluit herhalende sessies in, geleentheid om idees oor tyd te internaliseer en ondersteuning en inskakeling van bestuur. Die vlak van motivering van die studente is soortgelyk aan wat ons ervaar by ander leerlingskappe.
Komitees is ná die opleiding verbind tot 'n deeglike meting oor ses maande; die kriteria hiervoor het hulle saam help opstel. Die momentum vir langer termyn toepassing is intrinsiek en nie oor-afhanklik van die eksterne meting nie.
Kritiese hulpbron
Komitees is dikwels kunsmatig en oppervlakkig wanneer dit gedryf is deur die wette en oudits.
Hierdie opleiding het vir almal aan die beste praktyke blootgestel wat nodig is om ‘n eerlike en deelnemende kultuur van “saam dink, praat, doen en vertrou” uit te bou. Die kursus se duur, inhoud en inskakeling van die groter groep rolspelers, kon verseker dat nuwe gewoontes gevestig is.
ONS MOEDIG ANDER LEDE AAN OM VAN HIERDIE NUWE BENADERING VIR KOMITEE-OPLEIDING GEBRUIK TE MAAK TEN EINDE LANGDURIGE VERANDERING EN SUKSES TE VERSEKER.
|