Julie 2026_Koue Bokkeveld Opleidingsentrum_Nuusbrief

*|MC:SUBJECT|*
KOUE BOKKEVELD OPLEIDINGSENTRUM
MISTIGE JULIE
Welkom terug aan almal na die winter vakansie. Almal kan saamstem dat hierdie jaar 'n koue droë winter is. Die mis lê dik in die oggende en die luggie is ysig koud. Sit aan die ketel en maak vir jul 'n lekker warm koppie koffie en kom lees graag verder aan al die jongste nuus van die sentrum.  

In Junie het ons weer Jeugdag gevier. Die Afrikaanse Leiersdag was weer 'n opwindende dag. Volgende lê Vrouedag voor en ons sien uit om die dag weer saam met die vrouens te vier.
Dit is ook weer die tyd van die jaar wat altyd uitstaan as 'n groot hoogtepunt. Die Witzenberg Prestige Landboutoekennings. En wie is die wenner hierdie jaar? Lees die volledige nuus onder.
2026 WITZENBERG PRESTIGE LANDBOUTOEKENNINGS
Die 2026 Witzenberg Prestige Landboutoekennings, wat op 30 Julie by Kaleo plaasgevind het, het erkenning gegee aan die mense wat die hart van die Witzenberg se landbousektor vorm. Met 118 deelnemers wat oor nege kategorieë meegeding het, is uitnemendheid, toewyding en professionaliteit opnuut gevier.
As koördineerder van die toekennings sedert 2003 is die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum trots om deel te wees van 'n geleentheid wat mense se bydraes erken en inspireer. Ons bedank die Wes-Kaapse Departement van Landbou, wat die kompetisie dryf, asook Shoprite vir hul gesamentlike borgskap en ondersteuning.
Die aand het ook saamgeval met die 25-jarige viering van die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum. 'n Mylpaal wat die belang van mense-ontwikkeling beklemtoon. Oor die afgelope 25 jaar het die sentrum duisende mense deur opleiding en vaardigheidsontwikkeling toegerus om met groter selfvertroue, kundigheid en leierskap 'n verskil in die landbousektor te maak.
In haar toespraak het uitvoerende hoof Carmen Roberts gesê dat die grootste sukses van landbou altyd by mense begin. Sy het hulde gebring aan produsente, vennote, aanbieders, personeel en veral die landbouwerkers wat elke dag die sektor vorentoe neem.
Baie geluk aan al die finaliste en wenners. 'n Spesiale gelukwensing aan Justin Baartman van Romansrivier (Graaff Fruit), wat as Witzenberg Landbouwerker van die Jaar 2026 aangewys is. Justin se reis van algemene werker tot middelbestuur is 'n inspirerende bewys dat toewyding, harde werk en voortdurende ontwikkeling beloon word.
Met 25 jaar se ervaring bly die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum trots daarop om saam met sy vennote in mense te belê en só by te dra tot 'n sterker landbousektor.

Vir volledige lys van wenners druk op die skakel. Hiermee ook die skakel van 25 jaar tydlyn.
Van links na regs: Franco Williams (Departement van Landbou-Landelike Ontwikkeling), Chris Schutte (Shoprite), Justin Baartman (Graaff Fruit: Romansrivier), Carmen Roberts (Koue Bokkeveld Opleidingsentrum).
JEUGDAG 2026

Ongeveer 390 leerders het vanjaar ons jaarlikse Jeugdag bygewoon. Die dag was gevul met inspirerende boodskappe en kragtige getuienisse wat die leerders aangegryp en bemoedig het. 

Dit is merkwaardig hoeveel leerders uit so 'n dag kan leer. Die impak van hierdie dag strek veel verder as die verrigtinge self en dra by tot die positiewe ontwikkeling van ons jeug.

LEERLINGSKAPPE - DAAR IS NOG PLEK. SKRYF NOU IN!
VROUEDAG 2026 - SKRYF IN EN KOM VIER SAAM DIE KRAG, MOED, UNIEKHEID EN SKOONHEID VAN VROUWEES!
Terwyl julle nog wonder wat Vrouedag hierdie jaar gaan inhou, werk ons reeds hard agter die skerms om vir julle ’n dag vol inspirasie, lag, musiek en betekenisvolle oomblikke saam te stel. Ontmoet ons sprekers:
Haidee Muller-Isaacs is ’n bekende radiopersoonlikheid by RSG, dokumentêre vervaardiger en storieverteller met ’n passie vir mense en hul unieke lewensverhale. Ná ’n suksesvolle loopbaan as joernalis by Huisgenoot het sy haar hart in die radiowêreld gevind, waar sy luisteraars inspireer deur die stories van gewone mense op buitengewone maniere te vertel.
Shirley Olivier van die Suid-Oosterfees is bekend vir haar betrokkenheid by een van die Wes-Kaap se voorste kunstefeeste en haar passie om mense deur kuns, kultuur en gemeenskapsprojekte bymekaar te bring.
Akhona Vuta sluit ook by ons aan en gesels oor die belangrikheid van selfsorg, hoe dit hand aan hand gaan met stresbestuur, en die invloed daarvan op effektiewe ouerskap.
Bring jou vriendinne, kollegas, ma, dogter of suster saam en maak gereed vir ’n dag om te onthou. Kontak vir Landi by landi@kbos.co.za om in te skryf.
KOUE BOKKEVELD OPLEIDINGSENTRUM KONTAKNOMMERS
 
Let asb. op oor die alternatiewe nommers om te skakel indien u nie deurkom op ons hooflyn nie:
  • 023 317 0983 (hooflyn)
  • 023 317 0588 (alternatiewe landlyn nommer)
  • 083 268 3203 (selfoon)
AFRIKAANSE LEIERSDAG 2026, INSPIREER EN MOTIVEER ONS LEIERS WEER BAIE!
DIE PERSONEEL VAN DIE SENTRUM SIT WEER KOPPE BYMEKAAR MET 'N HEERLIKE SPANBOU SESSIE.
Met die eerste helfte van die jaar suksesvol agter die rug, het die personeel van die Sentrum tydens 'n spanbou-sessie saamgekom om terug te kyk, te besin en vooruit te beplan. Onder die tema “Cultivating High Performance Teams: Align and Attune to Accelerate”, het ons gefokus op die bou van sterk, doelgerigte spanne wat gereed is om saam te groei en uitnemendheid na te streef. Die dag het waardevolle gesprekke, beplanning en die verfyning van operasionele planne ingesluit om ons werksaamhede verder te versterk vir die opleidingseisoen wat ná die vakansie voorlê.
OPKOMENDE KURSUSSE
  • Basiese Brandbestryding - Ceres Museum - 5 Augustus
  • Komitee Mentorskap - Atsource - 4 en 5 Augustus
  • Gewasbeskerming: Steenvrugte - Ceres Museum - 13 en 14 Augustus
  • Kalibrasie en Toediening: Groente - KBOS - 20 Augustus
  • Ontwikkeling van effektiewe bestuurders - Ceres Museum - 25 en 26 Augustus
  • Voorraadstelsels - Ceres Museum - 19 Augustus
  • Boordmonitor (Afrikaans + Xhosa) - KBOS - 27 en 28 Augustus
  • Groente Monitors - KBOS - 19 Augustus
  • Sweis - TBC - 31 Aug tot 4 September
VOLG ONS OP SOSIALE MEDIA - FACEBOOK EN LINKEDIN
Facebook
LinkedIn
Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list.






This email was sent to *|EMAIL|*
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
*|LIST:ADDRESSLINE|*

*|REWARDS|*