Julie 2023_Koue Bokkeveld Opleidingsentrum_Nuusbrief

*|MC:SUBJECT|*
KOUE BOKKEVELD OPLEIDINGSENTRUM
PAPSOPWINTERWATERNAT 
Dit is KOUD. Dit is NAT. Dit is WINTER. So tussendeur al die storms deur, is ons dankbaar dat die damme vol is. Dit mag dalk koud wees, maar dinge is vuur en vlam aan die gang in die Witzenberg-vallei en opleidingswêreld. 
Lees lekker verder...
WITZENBERG LANDBOUTOEKENNINGS 2023
En ons Witzenberg Landbouwerker van die jaar 2023 is...Vivian Jakobs van Crispy Farming! Baie geluk!! Hierdie glansgeleentheid het op die 27ste Julie te Kaleo plaasgevind. Sprekers Gertrude Jacobs van Departement van Landbou, en Christi van den Heever, Jongboer van die Jaar 2023, het die deelnemers toegespreek oor die belangrike rol/skakel wat landbouwerkers in die boerdery ketting speel, sowel as hul bydrae tot die sukses van boerdery. Dit het so goed ingepas by vanjaar se tema; Van hand na Mond.
Van links na regs:
Gertrude Jacobs (Departement van Landbou), Vivian Jakobs (Crispy Farming), Carmen Roberts (Koue Bokkeveld Opleidingsentrum), Chris Schutte (Shoprite/Checkers).
Baie geluk ook aan die volgende welverdiende wenners: 
  • Algemene werker - Brenda Kupido - Ceres Remhoogte Boerdery
  • Drywer - Bruce Arries - Bronaar Plase
  • Besproeiingspesialis - Jacob Willemse - Verdun Estates
  • Tegniese Operateur - Dirk Louw - Bronaar Plase
  • Sosiale Ontwikkeling - Johanna Jantjies - Dutoit Agri: Kromfontein
  • Administratiewe personeel - Nasileen Mouton - Doornkraal Agri
  • Voorman - Gavin Paulse - Dutoit Agri: Kromfontein
  • Junior Bestuur - Luvo Nukani - Bronaar Plase
  • Middel Bestuur - Vivian Jakobs - Crispy Farming
  • Beste Presterende Plaas - Arborlane Estates: Weltevrede
  • Beste Potensiaal - Nasileen Mouton - Doornkraal Agri
Plaasmodel wenner: Verdun Estates
JEUGDAG 2023
Op 15 Junie het lorries vol toegewyde jeug leerders ons Jeugdag bygewoon. Al die plase het opgedaag, ongeag die slegte toestand van die paaie en swak selfoon netwerk a.g.v. die week se storms/onweer. BAIE DANKIE AAN ELKEEN WAT DIT MOONTLIK GEMAAK HET. Ons kan met trots sê dat die dag 'n reuse sukses was.

Die aanbieders se aanbiedinge was interaktief, lewenslustig en leersaam. Ons hoor by die plase dat die kinders nie kan ophou praat hoe goed die boodskappe was wat hulle ontvang het nie. Dankie ook aan ons leerders. Hulle gedrag was puik en ons is trots op hulle!
PLAASBESOEKE VERWELKOM NUWE KONSULTASIEDIENS
Wel - nie regtig so nuut nie! Die “plaasbesoeke” gaan ‘n nuwe naam en baadjie kry. In essensie is die plaasbesoeke die plase se geleentheid om met die personeel van Koue Bokkeveld Opleidingsentrum te gesels (individueel of in ‘n groep), oor ‘n onderwerp van die plaas se keuse. Vanuit die plase se perspektief is dit dus ‘n konsultasie sessie. Vanuit die opleidingsentrum se perspektief wel ‘n plaasbesoek. Hierdie gesprekke; ongeag wat hulle genoem word, is noodsaaklik om plase te help om die beste moontlike gebruik van die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum se dienste te maak deur hulle unieke omstandighede en die manier wat hulle die dienste wil aanwend te bespreek met die personeellid van hulle keuse. Dit is gratis vir alle ledeplase en deel van die voordele van hul lidmaatskap. Vir die opleidingsentrum is hierdie besoeke ‘n krities belangrike diens, want dit is waar die realiteite van die plase bespreek word en nuwe opleidingsidees gegenereer word. Dit is ‘n noodsaaklike “reality check” om te verseker die opleidingsentrum se dienste bly relevant.

Sommige plase is baie kreatief met die benutting van hulle konsultasie geleenthede. Sommige gebruik dit vir die opvolg van kursusse. Ander gebruik dit om spesifieke kursusse se impak te evalueer. Sommige gebruik dit om toekomstige studente of jeug met potensiaal te help identifiseer.
Izak Groenewald van Lakenvlei het die volgende gesê van hul navorsingsgesprek: "Belangrikste boodskap vir ons besigheid was verseker die feit dat verhoudings met ons mense eerder as net stelsels baie belangrik is. Te alle tye moet besluite opgeweeg word, tussen kwaliteit en kwantiteit. Ons arbeid kom van vêr en is die span sy familie!! Verseker die regte onderwerp vir ons, en fantasties deur Joy gelei om die invalshoek en klem op produktiwiteit, nuwe betekenis te gee”.  

Elke plaas is geregtig op 3 ure se konsultasie diens. Dit bly die plaas se keuse wie om te betrek by die konsultasie. As die HR (menslike hulpbronne bestuurder) net wil koffie drink met die persoon van die opleidingsentrum is dit ook reg! As daar met ‘n groep werkers of ‘n komitee gesels moet word, is dit ook reg; MAAR onthou - dit is slegs 3 ure gratis en dis te min om ‘n hele opleidingsessie aan te bied.  Plase kan wel opleiding wat aangepas is vir die plaas aanvra, maar sal dan waarskynlik ‘n paar uur teen betaalde konsultasie tarief moet byvoeg. Dit is egter nie primêr bedoel vir opleiding nie, maar eerder vir toepassing of opvolg van bestaande opleiding of dienste.

Daar is ook wel plase wat nie hulle konsultasie ure benut nie en dan outomaties na navorsing verwys word. Daar is ‘n paar navorsingsonderwerpe om van te kies. Joy is ingekontrakteer om die navorsing te doen. Sy kom basies dan ‘n klomp vrae vra en aan die einde van die jaar sal sy ‘n verslag optrek vir die opleidingsentrum om die tendense aan te dui, sodat strategiese besluite geneem kan word. In die geval kom die vrae dus van die opleidingsentrum se kant af. 

Dit bly vir ons belangrik om in voeling te kan bly met plaas realiteite as die opleidingsentrum se personeel gereeld op die plase kom. Die konsultasiediens (wat deel van die ledevoordele uitmaak) is dus ‘n wen-wen.

Onder volg 'n voorbeeld van wat 'n plaas met hul tyd gedoen het.
Alhambra het hoërskoolleerders geïdentifiseer met wie hulle ‘n pad wil stap. Edna het hierdie leerders ontmoet en ‘n sessie aangebied. Daarna het sy aan Herman, die bestuurder van Alhambra terugvoering gegee. Daar is ook strategies beplan vir die pad vorentoe saam met die leerders.
AGTERSTALLIGE FAKTURE
Neem asb. kennis. Rente sal gehef word vanaf 60 dae op alle
agterstallige fakture.
JOY VAN BILJON ONTVANG HORTGRO BEDRYFSTOEKENNING
Baie geluk Joy! Onder volg 'n uittreksel uit die artikel en motivering vir die toekenning. 

Die 1662-toekenning herdenk die eerste twee appels wat in daardie jaar - 17 April om presies te wees - in die Kompanjiestuin aan die Kaap geoes is.
Joy van Biljon, een van die stigterslede van die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum, ook bekend as KBOS, het 'n visie gehad om landbou deur opleiding te verander. Oor etlike jare heen, het Joy van Biljon 'n deurslaggewende rol gespeel om opleiding in die kommersiële sektor so te posisioneer dat dit ekonomies sin maak en diegene bemagtig wat opgelei word vir 'n loopbaan in die landbou. 
Joy het ook 'n belangrike rol gespeel om die sagtevrugtebedryf te help, en spesifiek om Hortgro te adviseer en by te staan, om die opleidings- en ontwikkelingsafdeling te onderhou. 
PARTNERS FOR POSSIBILITY SKOLE-LEIERSKAP PROGRAM BRING NUWE HOOP!
Citizen Leader Lab is trots en opgewonde om met die lesers en gemeenskappe van die omliggende plase te deel dat die volgende skole die Partners for Possibility Leierskap Program vir Skoolhoofde (P4P) met groot sukses en impak voltooi het. (Boy Muller Primêre Skool, Kromlin Primêre Skool, Skurweberg Primêre Skool en Hoërskool en Koelfontein Primêre Skool).

Baie geluk aan ons sakeleiers en vennote van die Koue Bokkeveld. Dit het ‘n groot rol gespeel in die sukses van die vennootskappe, maar ook in die ontwikkeling van ons skoolhoofde. Uit ervaring het P4P geleer dat boeke kennis, maar een van die vele elemente is wat nodig is om leer en verandering te bewerkstellig.
ONS WORD AANGENAAM VERRAS OP MANDELA-DAG
Die personeel van die opleidingsentrum is bederf met heerlike soet bakkies vanaf die kinders en personeel van Arborlane se bewaarskool. Dit was nou omtrent 'n aangename verrassing. Baie dankie vir die lekker bederf.
LANDBOULEERLINGSKAPPE NUUS
Soek u nog plek? Ons het nog twee plekke beskikbaar vir NQF 4 studente om die NQF 4 Leerlingskap te doen. Die volle kursus word geborg deur Hortgro, insluitend die PROCARE assessering. Kontak vir Jacob by jacob@kbos.co.za indien u belangstel.
BOEK NOU JOU OPLEIDING!
FOKUS EN TYDBESTUUR
Hierdie kursus vind plaas op 19 en 20 September by Koue Bokkeveld Opleidingsentrum. Kostes beloop R4294 per persoon vir lede. Skryf nou in vir hierdie uitstekende kursus! Skryf nou in by Euria by euria@kbos.co.za
BRIGHT STAR CORE
Hierdie kursus bied ‘n geleentheid om die kern van lewensvaardighede te ontdek en dit van toepassing te maak op jou eie lewe

Die volgende 10  temas word tydens die 2 dag CORE program hanteer:
  • Denke – Wat jy dink bepaal jou lewe!
  • Verantwoordelikheid – Wie/wat is in beheer van MY lewe?
  • Waardes – Besluit op 5 belangrike waardes vir jou lewe, en maak dit prakties – by die huis en by die werk.
  • Self-waarde -  Ontwikkel jou eie selfwaarde-stellings.
  • Lewensdoel – Wat is JOU doel op aarde? Hoe kan  jy ‘n verskil maak?
  • Kommunikasie – Dit is die sleutel tot sukses en goeie verhoudings.
  • Self-Beheer – Leer om jou emosies te beheer en besluit hoe jy konflik wil hanteer.
  • Prioriteite – Wat is belangrik in jou lewe?
  • Invloed – Watter invloed het jy op die mense rondom jou?
  • Wees jouself, wees ‘n rolmodel!! 
Bright Star is nie ‘n kursus met baie inligting nie – dit is ‘n proses wat lewensverandering bewerkstellig. Die krag van die lewensvaardigheidsprogram berus in eenvoud en klein groepe van maksimum 12 persone. Deelnemers aan die program word begelei en gemotiveer om by elke tema ‘n besluit te neem vir hul eie lewe. Praktiese oefeninge word deurentyd gedoen, sodat hierdie besluite standpunte word wat elke deelnemer kan deel maak van hul lewe.  

Die Bright Star Core kursus is geskuif na 15 en 16 Augustus en sal plaasvind by Koue Bokkeveld Opleidingsentrum. Kostes beloop R1156 per persoon. Skryf nou in by Euria by euria@kbos.co.za
NOG OPKOMENDE KURSUSSE:
  • Bright Star Core: 15 en 16 Augustus, KBOS
  • Boordmonitor Gevorderd: 15 en 16 Augustus, Ceres
  • Hantering van 'n Spuitpomp (Xhosa): 18 Augustus, Ceres Museum
  • Potensiaal en Persepsie toetse: 23 Augustus, KBOS
  • Hantering van 'n Spuitpomp (Xhosa): 24 Augustus, KBOS
  • Toesighouer Kwaliteit Opvolg: 25 Augustus, Ceres Museum
  • Hand and Powertools: 30 Aug – 1 September, 4 – 6 September, KBOS
  • Kantoor dames: 5 September, KBOS
  • HR Studiegroep: 7 September, KBOS
  • Boom kursus (Afrikaans): 7 en 8 September, KBOS
  • Gevorderde Sweis: 11-15 September, Ceres
  • Boom kursus (Xhosa): 14 en 15 September, KBOS
  • Nasorg program: 18 en 19 September, KBOS
  • Fokus en Tydbestuur: 19 en 20 September, KBOS
SIEN FOTO'S ONDER VAN ONS BRANDBESTRYDING, BRIGHT STAR LIFE CLASSIC EN KLEUTER PROGRAM KURSUSSE WAT PLAASGEVIND HET!
VOLG ONS OP SOSIALE MEDIA - FACEBOOK EN LINKEDIN
Facebook
LinkedIn
Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list.






This email was sent to *|EMAIL|*
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
*|LIST:ADDRESSLINE|*

*|REWARDS|*