Januarie 2022_Koue Bokkeveld Opleidingsentrum_Nuusbrief

*|MC:SUBJECT|*
KOUE BOKKEVELD OPLEIDINGSENTRUM
VOORSPOEDIGE NUWE JAAR!
Die splinternuwe jaar staan voor ons, soos ‘n hoofstuk in ‘n boek, wat wag om geskryf te word. Mag die bladsye in u hoofstuk voorspoedig wees met goeie oeste en ‘n geseënde jaar.

Ons glo in ‘n produktiewe Witzenberg streek. Ons is hoopvol om ons mense te sien groei en ontwikkel in suksesvolle en gelukkige werkers. Dit is die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum se droom dat ons visie, leer presteer, nagestreef word en dat die gemeenskap in ons streek 'n passie sal ontwikkel vir die landbou bedryf of dan net die waarde daarin sal sien om hulself te ontwikkel/verder op te lei.
Mag ons in soveel mense se lewens ‘n positiewe verskil maak, nie net met landbou opleiding nie, maar ook met lewensvaardigheidsopleiding.

Daar is ‘n hele paar nuwe kursusse en gemeenskapsprojekte beplan vir 2022. Gaan loer op ons webwerf en bespreek jul plekke nou. Hou ook ons nuusbriewe dop. Sien ook onder foto’s van kursusse en projekte wat reeds aan die gang is.

2022, ons is reg vir jou!

WAT MOET ONS AAN OPLEIDING SPANDEER? 

‘n Minimum van 1% van die loon rekening. Hierdie is die standaard antwoord van al die jare. Dit is maklik om uit te werk want dit is die SDL bedrag. Die top besighede in die wêreld spandeer egter rondom 5% en die gemiddeld is rondom 2%. Daar is verskillende maniere om dit prakties te maak:
  1. Die som word per afdeling gemaak en elke afdeling kies hoe om sy begroting te spandeer om sy produksie doelwitte te bereik: Byvoorbeeld die instandhouding span se begroting is R3000 en hulle besluit om ‘n nuwe jong sweiser op te lei. Dit is ‘n uitstekende strategie maar daar is ook nadele:
    • As die hoof van die afdeling nie die gesprek met energie en intelligensie dryf nie.
    • Groot eenmalige insette (bv. ‘n vakmanskap) moet addisioneel onderhandel word.
    • Die hoof van die afdeling sit nie homself op opleiding nie.
  2. Die som word per individu gemaak en is gekoppel aan die prestasie-gesprek met die persoon sowel as die onderneming se doelwit vir sy loopbaan. Hierdie is ‘n tydrowende, maar baie meer motiverende benadering en ideaal vir toesighouers, bestuur en spesialiste. Dit is die beste manier om die waarde van die opleiding te meet ("return on investment").
  3. Werk volgens ‘n formule: Byvoorbeeld 25% word spandeer aan lewensvaardighede; 25% aan leierskap; 25% aan nuwe tegnologie en 25% aan wetlik verpligte opleiding. Dit kan help om te sorg dat daar ‘n balans gehandhaaf word.
Die heel belangrikste is dalk: moet nie net “compliance” opleiding doen nie. As iemand opgelei word net omdat hy ‘n sertifikaat verteenwoordig en 90% van die kursus inhoud is vir hom ou nuus; beleef hy geen groei nie en jy beleef geen waarde op jou belegging nie. Jy het ‘n sertifikaat gekoop. Jy het nie belê in verhoogde motivering, nuwe kennis, meer selfvertroue of jou besigheid se algemene produktiwiteit nie.
Bo en onder is foto's van Adam Hanekom van Dennekruin, wat met die 1ste plek weggestap het by ons Algemene wenner afdeling van ons 2021 Tuinbou kompetisie. ‘n Groot gevestigde tuin wat netjies in stand gehou word. Met slim planne en harde werk is die tuin teen die steil helling uitgebrei om groente te plant. Daar is ook aanplantings oorkant die pad teen die berg gedoen. Pragtig!
LANDBOULEERLINGSKAPPE NUUS
Alle landbouleerlingskappe het weer 'n aanvang geneem. Huidiglik word daar aanpassings gemaak aan die rooster van die huidige Afrikaanse NQF 1 klas (Hamlet) om dit ten einde te kan aanbied op Donderdaeaande i.p.v. op Dinsdaeaande. Sodra die aanpassings aan die rooster gemaak is, sal dit aan die betrokke plase deurgegee word. Hou asb. jul e-posse dop vir die finale reëlings en meer inligting.
WELKOM PHILIP MASEMOLA!

Philip Masemola, het by die span van die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum aangesluit op 4 Januarie 2022 en sal grotendeels betrokke wees in die landbou-afdeling. Hy help tans met die aanbiedinge van die pluk kursusse, maar sal veral help met die hersiening van die huidige NQF 4, om dit aan te pas vir die QCTO-model. Die QCTO-model gaan ingefasseer word by die NQF 4 klas.
Philip het by Boland Kollege sy studies voltooi in Boerderybestuur en is oorspronklik van Limpopo. Sotho is sy eerste taal, maar hy is wel ook Afrikaans, Engels en Xhosa magtig. Ons is opgewonde om hom deel van ons span te hê.
Bo is foto's van Tol Fritz van Koelfontein se tuin. Hy was naaswenner van ons Algehele wenners afdeling tydens ons 2021 Tuinbou kompetisie. ‘n Groot tuin, wat netjies in stand gehou word. ‘n Groot verskeidenheid plante is op ‘n kreatiewe manier geplant en daar is ‘n gesellige kuierhoekie. Daar is ook ‘n netjiese groentetuin. Daar is ‘n oulike dammetjie vir sy ganse, en die byekorwe en duiwehokke is goed versorg. Dit lyk sommer lekker om daar te kuier!

WAMKELEKILE KURSUS

Hierdie kursus was in 2021 vir die eerste keer aangebied en die uitkomste en terugvoering was baie positief. Dus is ons baie opgewonde om dit weer aan te bied in 2022. Die doel van die Wamkelekile kursus is om nuwe/jong Xhosa en Sotho landbouwerkers te verwelkom in die Witzenberg area en om in te lig rondom baie belangrike kwessies in ons streek. Ons wil ook help dat hulle makliker aanpas in die nuwe en vreemde omgewing. Die idee is om hierdie kursus te laat inskakel met die plase se induksie program op die plaas, waarvan Ayanda en ander sprekers dan vir 1.5 ure kom gesels oor die volgende onderwerpe:
  1. Hulpbronne en gemeenskapsprojekte waarby hulle kan inskakel:
    • Sokker, koor, tuinbou, kampe ens.
    • Effektiewe kommunikasie op plase
    • GOB stelsel
    • Diversiteit
  2. Gesondheidskwessies:
    • HIV en TB voorkoming
    • Kroniese medikasie
    • Toegang tot klinieke
    • Kwessie rondom “bokkies” en jong meisies
  3. SAPS:
    • Alkohol en dwelmmisbruik
    • Misdaad op plase
    • Na ure gedrag by hostels
BROKKIES:
1. Opkomende kursusse: Daar is reeds opleiding vanaf Maart. Bespreek jul plekke nou op ons webwerf of by Euria.
  • Fokus en Tydbestuur: 15 Maart te Ceres
  • HR Studiegroep: 23 Maart te KBOS
  • Steenvrugte Velddag: 29 Maart
  • Besoek en bespreek: Boorde van die toekoms: 6 April te KBOS
  • Veilige hantering van gifstowwe: beginners: 14 April te Ceres
2. Onthou asb. om alle opleiding voor einde Maart te bespreek. Winter plaasbesoek vorms moet ook asb. teen einde Maart vir ons gestuur word.

3. WSP’s en ATR’s: Wees asb. op die uitkyk vir ons e-pos en inligting oor die WSP en ATR proses. Ons gaan hierdie jaar vroeër daarmee begin omdat die stelsel vroeër oop gaan wees vir die oplaai van die inligting.

4. Gesondheidswerker leerlingskap/vaardigheidsprogram: Daar het 'n behoefte ontstaan vir hierdie opleiding en ons wil graag 'n opname doen om belangstelling te toets. Daar moet 20 in 'n groep wees om te kan voortgaan met die opleiding en dit sal in samewerking met Philani aangebied word. Laat weet asb. vir Euria by euria@kbos.co.za indien jul sou belangstel in hierdie opleiding.
Daar was goeie samewerking tydens ons prakties van die APD nutsman kursus. Kyk hoe verf die manne en hoe geniet hulle dit!
Daar is baie geleer tydens ons Xhosa Pluk kursus van Dutoit Agri. Praktiese en kreatiewe opleiding wat kwaliteit vrugte verseker. Gehalte word verseker deur die korrekte hantering van vrugte wat lei tot beter vergoeding vir almal.
Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list.






This email was sent to *|EMAIL|*
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
*|LIST:ADDRESSLINE|*

*|REWARDS|*