Februarie 2021_Koue Bokkeveld Opleidingsentrum_Nuusbrief

*|MC:SUBJECT|*
KOUE BOKKEVELD OPLEIDINGSENTRUM

ONTMOET DIE ONBEKENDE MET STRATEGIE

Verwag die onbekende. Dit is wat 2020 en die begin van 2021 ons geleer het. Om vloeibaar en vlugtig enige uitdagings die hoof te kan bied moet alle ondernemings hul strategieë hersien en verskerp.

Koue Bokkeveld Opleidingsentrum het in die afgelope maand dieselfde gedoen. Ons het besin oor wat die kernbedrywighede van die sentrum is en moet wees, en ons het saam as 'n span die pad vorentoe bevestig. Lees hieronder meer oor wat die sessie behels het.

Van die gevolge van hierdie onbekende wêreld waarin ons nou beweeg, is dat ons GOB-kamp ook nie in Januarie kon plaasvind nie. Dié sessies skuif nou na die virtuele ruim via Zoom. Lees meer hieroor ook in hierdie maand se nuusbrief hieronder.

Aan alle matrikulante wat hul uitslae ontvang het en wat in 'n bitter uitdagende jaar die belangrike mylpaal behaal het om hul matriekjaar te slaag: Baie geluk! Ons hoop dat daar nog meer plase van die geleentheid gebruik sal maak om kandidate vir die 1,2,3 Werk-program in te skryf noudat die resultate bekend is.

Lekker lees en voorspoed vir die maand!

Die KBOS-span

STRATEGIESE SESSIE: PASSIE + BELEID

Die personeel van Koue Bokkeveld Opleidingsentrum het op die 16e Februarie ‘n baie insiggewende strategiese sessie en spanbou-dag gehad by die Op-die-Berg Gemeente Kerksaal.
 
 
Hein Wandrag het die grootste gedeelte van die dag gelei oor emosionele intelligensie, verantwoordelik- heid en konstruktiewe kritiek.

Die personeel moes as span 'n struktuur uit Lego bou om die sentrum se missie en visie uit te beeld.

Die struktuur het uitgebeeld dat die sentrum uit 2 hoofpilare bestaan, naamlik Opleiding en Gemeenskapsontwikkeling onderskeidelik.

Die pilare word bymekaar gehou deur die span en die sentrum se visie om groei, produktiwiteit en mense-ontwikkeling te verseker. Hierdie groei word deur die boom bo-op die konstruksie uitgebeeld. Die klein strukture onder die boom beeld die diverse personeel van die Opleidingsentrum uit.

Carmen Roberts het daarna die sessie gelei deur die sentrum se beleide met almal te bespreek en af te teken.

LEDEGELD

Ledegeld sal nie hierdie jaar verhoog word nie.  Onthou asseblief  dat die ledegeld volgende jaar dieselfde gaan wees as hierdie jaar as gevolg van die SDL vakansie van verlede jaar.

LAASTE KANS  VIR 1,2,3 WERK LANDBOU-JEUGPROGRAM 

Daar is nog 'n laaste kans om jeug in te skryf. Ons is bewus daarvan dat sommige plase eers wou wag het vir die matriekuitslae wat in dié week vrygestel is.

Ons gee nog kans tot 5 Maart vir inskrywings, maar kan ongelukkig nie langer as dit uitsteltyd gee nie. Ons moet begin finale reëlings tref vir die klasse wat in middel Maart begin.

 
Die 1,2,3 werk jeugprogram gaan nie net die jeug help om kennis op te doen in die landbou-rigting nie, maar ook kennis in ander gebiede wat baie waardevol is. Hul sal opleiding kry oor basiese rekenaarvaardighede, Noodhulp Vlak 1 sowel as lewensvaardighede, wat in vandag se uitdagende tye so baie nodig is.
 
Inskrywingsvorms kan gestuur word na Michelle by michelle@kbos.co.za. Kontak haar gerus indien jul nie ‘n inskrywingsvorm ontvang het nie.

Let asb op dat dit hierdie sessie deel vorm van die HR-studiegroep wat bestaan uit vier-en-‘n-half-dae sessies vir die prys van R3230 pp. Die onderhandelingsvaardighede-sessie is voldag, vanaf 08:30 tot 15:30, en indien jy nie die volledige HR-studiegroep wil doen nie, is die prys R1450.
 
Meer inligting kan gekry word op ons webwerf of navrae kan gestuur word na Euria by euria@kbos.co.za.

2021 SE JEUGPROGRAM SKOP AF

Die 2021 Jeugprogram het afgeskop op Vrydag die 12e Februarie in verskillende streke.

Koue Bokkeveld se leerders het by Bronaar se lokaal bymekaar gekom en Warm Bokkeveld se leerders het by Koelfontein bymekaar gekom. Met die 1ste sessie het ons die dokumentêr “The Social Dilemma” bespreek en met die jeug behandel.

Die leerders was baie opgewonde en sien uit om al die sessies by te woon wat nog voorlê.

GOB-KAMP WORD VERVANG MET ZOOM

As 'n mens stilstaan en regtig daaroor dink, is dit ongelooflik hoe ons almal tegnologie kon inspan om dit wat ons nie kan doen nie, te vervang.  Só kon die GOB-kamp in Januarie nie plaasvind nie, maar ons het 'n plan gemaak!

Ons doel met die kamp was om GOB’s en komitee-voorsitters beter toe te rus om meer effektief na hulle eie gmeenskappe te kyk en verbeteringe aan te bring, eerder as om te wag dat ons interplaas-aktiwiteite reël.  Stap 1 is om te besef ontwikkeling gebeur wanneer verantwoordelikheid gedeel word.
Hierdie prent word nou tydens die zoom gesprek op die skerm gewys en bespreek. Daar is nie 'n groot groep vir die GOB/komiteelid om agter te skuil nie.  Elkeen moet oor sy eie plaas dink en gesels.  

Ons deel ook weer die jaarprogram.  Daarop is twee datums wat elke GOB/komitee self moet inspan om aktiwiteite vir sy of haar plaas (en moontlik ‘n ander plaas wat hy/sy wil nooi) te reël.  Ons gesels tydens die sessie oor die keuse en beplanning van hierdie geleenthede. 

Aan die einde van die 30-minute het ons dan 'n eenvoudige werkbare plan vir elke plaas wat Landi kan opvolg en ondersteun.  Dit is wonderlik om te sien hoe die GOB’s ontspan en die voordeel van tegnologie benut word.

 
Ons wil plase aanmoedig om hulle GOB of komitee die geleentheid te gee om hierdie sessies by die rekenaar te kom doen. Dit duur net 30 minute en daar is binne- en buite-werk tye in die GOB brief aangedui waaruit julle kan kies.  In vergelyking met die kamp is dit 'n maklike, goedkoop opsie en ons is baie optimisties oor die groei wat ontsluit kan word. 

Ons besef ‘n gesonde plaasgemeenskap gaan toenemend op goeie interne verhoudings gebou word, want Covid-19 en die vermindering in eksterne opsies, ook weens die loonverhoging,  maak dat gemeenskappe meer geisoleerd kan raak.  Dit hou natuurlik risiko's in.

 

WERKSPLEKVAARDIGHEIDSPLANNE EN OPLEIDINGSVERSLAE

Ons herinner jul aan die inligting vir die voltooiing van die werksplekvaardigheidsplanne en opleidingsverslae vir AgriSETA.

Die sluitingsdatum vir indiening vir die SETA is einde April, maar ons probeer altyd om dit ‘n week voor die tyd in te dien, aangesien die AgriSETA-webwerf gewoonlik oorlaai is en probleme gee in die laaste week.

April is ook redelik vol vakansiedae, dus wil ons asseblief alle inligting teen Maandag 8 Maart  ontvang.

Almal se samewerking word gevra om so gou moontlik hierdie inligting aan ons te voorsien. Enige navrae kan gerig word aan Carmen by carmen@kbos.co.za

MUSIEKPROJEK

Ons is baie opgewonde dat ons weer so stelselmatig kon begin met ons Kitaar- en Blokfluit opleiding.
 
Ons is tans besig met drie kitaargroepe, naamlik Rocklands, De Keur en Skurweberg, en hoop om so gou as moonlik weer by Laerskool Koue Bokkeveld en Boy Muller te begin.

Kitaarstudente het ook die wonderlike voorreg gehad om op Saterdag die 20ste Februarie 2021 'n kitaarwerskwinkel by die sentrum  by te woon wat deur Rowen Geneke gefasiliteer was. Leerders het dit baie geniet en kon regtig baat vind by die opleiding.
 
Die blokfluitfasiliteerders het laasjaar Desember weer hul kennis verskerp deur blokfluitopleiding, wat aangebied was deur Aletmarie Gibson, te doen. Groepe op die plase gaan voort met hul opleiding.

NUWE AANSTELLING

Ons is baie opgewonde om binnekort die nuwe Landbou Opleidingsbeampte van ons span bekend te stel. Kyk gerus uit vir die volgende nuusbriewe. 
Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list.






This email was sent to *|EMAIL|*
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
*|LIST:ADDRESSLINE|*

*|REWARDS|*