Augustus 2026_Koue Bokkeveld Opleidingsentrum_Nuusbrief

*|MC:SUBJECT|*
KOUE BOKKEVELD OPLEIDINGSENTRUM
ONS VIER VROUEMAAND
Augustus is 'n maand waarin ons vroue vier. Vroue wat inspireer, omgee, lei, opstaan en elke dag 'n verskil maak. Dit is 'n geleentheid om stil te staan by die ongelooflike krag, moed en veerkragtigheid van vroue, maar ook om erkenning te gee aan die bydrae wat elke vrou, jonk of oud, in haar gemeenskap en die wêreld rondom haar maak.

Lees lekker verder aan die jongste nuus van die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum. Daar lê nog baie opwindende dinge voor in die opleidingsdagboek vir die res van die jaar.
MERKWAARDIGE "JONGBOER"
Vroue-maand ten spyt, dink ons nie aan ‘n swart vrou wanneer ons die woord “jongboer” hoor nie. Tog is een van die top 5 studente wat die Jongboer Program gedoen het, Zokwanda Hiazo van Tandfontein. 
Dit is ‘n merkwaardige prestasie om verskeie redes. Zokwanda se Afrikaans is so-so en baie van die klasse en gesprekke was in Afrikaans. Sy moes fokus om by te hou. Verder was sy die enigste vrou in die kursus. Sy is dankbaar dat sy in ‘n groep was waar haar klasmaats vriendelik en aanvaardend was. Daar was ook net een ander student met wie sy kon Xhosa praat. Sy verwoord goed hoe stresvol dit is om die enigste vrou by iets soos ‘n boordloop te wees, waar alles boonop bespreek word in jou derde taal. Mense wat nooit persoonlik in so ‘n situasie is nie, verstaan nie altyd hoe moeilik dit is nie. Sy was ook van die jongste studente in die groep. Uitdagings ten spyt, het sy onder die top 5 geeindig in die klas.
Waar Zokwanda uitblink is buite in die boord. Sy is werklik lief vir die boorde en wil alles weet. Om haar te sien gesels met haar toesighouers is insiggewend. Sy is baie respekvol en luister mooi na hulle planne, maar is terselfdertyd duidelik oor wat sy verwag. Sy verstaan hoe om groepdinamika te gebruik. Zokwanda rapporteer aan Kulu van Zyl wat haar as “‘n yster” beskryf en haar vir die Jongboer program ingeskryf het. 
Zokwanda se blootstelling aan landbou kom lank aan omdat haar ma gewerk het as plaas gesondheidswerker. Sy het ‘n CPUT landbou kwalifikasie en haar plan is om haar B.Tech deur Unisa te voltooi. Haar grootste uitdaging: ‘n rybewys! 
Zokwando Hiazo van Tandfontein
VROUEDAG - ONS SIEN JOU, WAARDEER JOU EN ONS VIER JOU!

10 Augustus was ons jaarlikse geleentheid om vroue te erken, te waardeer en te vier. Dit was ’n dag vol emosie en vreugde. Ons het gelag, gedans en selfs ’n paar trane gestort.
Ons wil ’n spesiale dankie sê aan elke plaas, vennoot en man wat ’n rol speel in die lewens van hierdie vroue. Ons sien ook julle, die ondersteuning, omgee en bydraes wat julle lewer om vroue se lewens positief te beïnvloed, word raakgesien en waardeer.
Dankie dat ons saam vroue kan vier, versterk en bemagtig.

VROUEKAMP 2026
52 vroue het ons heel eerste Vrouekamp, van 14–16 Augustus, bygewoon. ’n Naweek aangebied deur Karin van Wyk wat diep in die harte van ons vroue gaan lê het. Die stories, getuienisse en emosies wat gedurende daardie naweek gedeel is, was merkwaardig en aangrypend. Karin het daarin geslaag om elke vrou se hart te raak en om iets binne-in haar wakker te maak en haar te herinner aan haar waarde.
Hier is ’n paar van die woorde en aanhalings wat die naweek vasgevang het:

“Dit was vir my soos water wat ek drink, en kan nie genoeg daarvan kry nie. My trane het vrylik geloop, maar nie van hartseer nie, maar van die teenwoordigheid van die Here.”

“…my hoogtepunt van die naweek was Sondag met die afsluiting toe ons hangertjies ontvang het, toe Jesus sy laaste stukkie van my puzzle aanmekaar gesit het..”

“ Ek voel geliefd, ek voel spesiaal. Ek voel dat ek behoort.”
AGRISETA BEFONDSINGVENSTER NOU OOP - MOENIE HIERDIE GELEENTHEID MISLOOP NIE!
Die AgriSETA-befondsingsvenster is tans oop, en ons wil alle lede aanmoedig om van hierdie geleentheid gebruik te maak deur aansoek te doen vir beskikbare befondsing.

Hoewel ons befondsingsaansoeke aan AgriSETA die afgelope paar jaar nie altyd die gewenste sukses behaal het nie, is dit belangrik om te onthou dat elke nuwe aansoekvenster nuwe moontlikhede bied. Befondsingsprioriteite, beskikbare begrotings en keuringskriteria verander gereeld van jaar tot jaar. Daarom kan 'n projek wat voorheen nie suksesvol was nie, hierdie jaar wel goedgekeur word.

Deur vol te hou en goed voorbereide, kwaliteit-aansoeke in te dien, verhoog ons nie net die kanse op sukses nie, maar dra ons ook by tot die ontwikkeling van vaardighede in ons ondernemings en die breër landboubedryf. Die voordele van befondsde opleiding, internskappe en vaardigheidsprogramme strek veel verder as individuele besighede en help om 'n sterker, meer volhoubare landbousektor te bou.

Die huidige befondsingsvenster sluit op 15 September en sluit onder andere die volgende projekte in:
•    Beurse
•    Internskappe
•    Werksplekplasings
•    Leerlingskappe
•    Vaardigheidsprogramme
•    Vakmanne 

Indien jy belangstel om vir enige van hierdie projekte aansoek te doen, stuur asseblief jou nodige dokumentasie so gou as moontlik na admin02@kbos.co.za. Hoe vroeër die dokumente ontvang word, hoe meer tyd is daar om te verseker dat jou aansoek volledig en korrek ingedien word.

Moenie moed verloor as vorige aansoeke onsuksesvol was nie. Elke aansoek is 'n nuwe geleentheid. Dien in, bly positief en help ons om saam in opleiding en vaardigheidsontwikkeling te belê.
VRUGTE VOORMANNE EN ASSISTENTE VELDDAG
Piet Nieuwoudt het weer 'n insiggewende Velddag aangebied vir die Vrugte Voormanne en Assistente.
SIEN MEER INLIGTING ONDER OOR ONS OPKOMENDE KURSUSSE!
OPKOMENDE KURSUSSE
  • Toesighouer Kwaliteit: Opvolg - 10 September te KBOS
  • Spanleiers (Afrikaans) - 3 + 4 September te Ceres Museum
  • Kalibrasie en toediening: Vrugte - 3 September te KBOS
  • Werkswinkel vir Opleidingsbeamptes - tema (befondsingaansoeke) - 2 September -KBOS/aanlyn
  • Senior Struikelblokke - 22 September te KBOS
  • Noodhulp vlak 2 - 14 tot 16 September te Ceres Vallei Kerksaal
  • Veiligheid en gesondheidsverteenwoordigers - 16 + 17 September te KBOS
  • Brandbestryding: Heropleiding - 9 September - KBOS
VOLG ONS OP SOSIALE MEDIA - FACEBOOK EN LINKEDIN
Facebook
LinkedIn
Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list.






This email was sent to *|EMAIL|*
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
*|LIST:ADDRESSLINE|*

*|REWARDS|*