|
In ons 2018/2019 jaarblad het ons genoem dat die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum al hoe meer in die rigting van e-leer wil beweeg. Ons eerste e-leer klasse het in Julie van 2020 afgeskop. Hierdie stap is nie net sodat ons die voortou met innovering en ontwikkeling in terme van die aanbied van kursusmateriaal kan neem nie, maar ook omdat dit 'n oplossing bied vir leerlingskappe wat in 'n korter tyd aangebied moet word, sonder dat praktiese seisoenale aspekte uitgesny word.
Natuurlik het die Covid-19 pandemie ook duidelik uitgewys dat e-leer as element van ons aanbieding absoluut noodsaaklik is. Dit vestig 'n model van vermengde leer wat ons studente baat.
Nadat AgriColleges International (AgriSETA geakkrediteerd) ons in 2018 besoek het en ons weer in 2019 besoek by hulle afgelê het, is die vennootskap onlangs met 'n Memorandum van Ooreenkoms gesluit waar hulle twee modules (landbou-besigheidsbestuur en kommunikasie) vir ons op e-leer basis sal aanbied.
AgriColleges International het beslis al hulself op die gebied van e-leer bewys en bied dieselfde kwalifikasies as ons, maar daarby bied hulle ook NQF-vlak 5 kwalifikasies vir studente. Dit is iets waarna ons in die toekoms mik en ons kan baie uit dié vennootskap leer.
Ons is opgewonde oor die samewerking en wat dit vir die sentrum beteken.
Die Opleidingsentrum het ook sopas ons eerste Noodhulpkursus met e-leer elemente afgehandel. Ons was reeds voor Covid-19 grendeltyd gerat om dié kursus aan te bied, maar moes eers bietjie uitstel. Dit was 'n groot sukses en het positiewe terugvoer ontvang.
Ander kort kursusse waar e-leer deel van kursusaanbieding uitmaak:
- Veilige hantering van gifstowwe (heropleiding);
- Basiese beginsels van toesighouding;
- KID (vermengde leer).
Ons het aan die begin wel navrae vanaf ons kliënte ontvang oor toegang tot rekenaars en wie die data sou voorsien. Die aanvanklike reaksie het nogal breed verskil, maar ons het die geleentheid tydens die inperkingstyd aangegryp om ons ledeplase te skakel en e-leer, as deel van vermengde leer, met hul deur te trap.
|